Tuesday 27 October 2015

'n Klomp reëls








‘n Klomp reëls


Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.  -  Matteus 4:10


Hoekom dink jy het God reëls soos:  “Moenie jok nie” en: “Moenie doodmaak nie”?   Dink jy Hy het hierdie opdragte uit woede uitgedink?  Het Hy reëls gemaak om te wys wie’s baas en omdat Hy ‘n pretbederwer is?   Natuurlik nie!  Sy opdragte beskerm ons.  God weet wat die vinnigste, veiligste pad na vreugde en vervulling is, en sy opdragte lei ons soontoe.


Lees wat sê Moses oor die Here se opdragte: “Die Here het ons beveel om volgens al hierdie voorskrifte te lewe en om die Here ons God te dien, sodat dit altyd goed kan gaan met ons ...  Gehoorsaam die gebooie en voorskrifte wat die Here jou vandag deur my gee.  Dit sal tot jou voordeel wees (Deut 6:24;  10:13).


Here, ek loof U omdat U ‘n liefdevolle God is, en u opdragte vir my eie beswil gemaak het.  Amen




Bob Hostetler  :  Kry lewe @ JESUS




  Jesus se Seunskind / Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!






(Die uitsendings van al my boodskappe, hang af van die stabiliteit van my internet konneksie.  Wanneer daar dus onderbrekings daarin is, sal daar ongelukkig ook geen boodskappe uitgestuur kan word nie.)









Friday 23 October 2015

God will never let you fall








God will never let you fall


Have you ever heard (and seen!) a baby when his or her mother puts him or her down for a second, whilst she goes out and does something else in a different room?  First there is this absolute amazement on the baby’s face.  Then the bottom lip starts to quiver.  With a great noise the baby puts his or her arms out to the door – through which his or her mother just went.  And, still crying, crawls after her.  “Separation anxiety” the psychologists call it.  The fear that his or her mother will leave him or her.  That she will not come back.  That she no longer loves her baby.  Because where did she go to?


Not only babies react like this.  We also suffer from “separation anxiety.”  The moment things go badly, we immediately think:  Where is God now?  Why did he not prevent this from happening?  Many times you hear someone say, “God has forgotten about me.”  We all know the feeling.  That terrible feeling of aloneness.  Isolation.  When it feels as if even God has left our side.


That is why Paul writes this chapter.  To remind us that separation anxiety is totally unnecessary for a Christian.  One of God’s promises is that nothing will ever separate us from him.  When bad things happen tot us, he never slips around the corner or leaves the room.  He never splits when we are having a crisis.  He is there.  Always!!


Do you believe that God will keep his promise?




Ronell Bezuidenhout  :  God in your life.


  Wonderfully Made / Facebook






Wednesday 21 October 2015

Uit liefde








Uit liefde


Die 15-jarige gimnas Shannon Miller het ‘n silwermedalje by 1992 se Olimpiese Spele in Barcelona, Spanje gewen, maar sy was bitter teleurgesteld:  nie ‘n enkele goue medalje nie.


Maar vier jaar later palm sy sommer twee goues in Atlanta, VSA in.  Enkele dae later vra ‘n TV-verslaggewer haar hoe moeilik dit was om ná die eerste Spele aan te hou oefen.  Shannon het haar skouers opgehaal en gesê sy is lief vir gimnastiek.  Omdat sy so lief is daarvoor, het sy nie omgegee om so hard te werk nie.  Vir ander mense lyk haar voorbereiding dalk swaar, maar Shannon kla nie, omdat sy lief is vir gimnastiek.


Om God se gebooie te gehoorsaam, is amper dieselfde.  Mense wat nie vir God of sy Seun ken nie, dink:  Jy mag nie dit nie!  Jy mag nie dat nie!  Baie sê: “Daar’s té veel moenies!  Hoe op aarde hou Christene by al die reëls?  Dis te moeilik!”  Of dalk:  “Ek sal nooit al daardie gebooie kan nakom nie!”


Hulle menings wys hulle verstaan nie regtig die Christen se lewenswyse nie.  Nes Shannon Miller, wat geoefen het uit liefde, gehoorsaam Christene die Here se opdragte omdat hulle vir Hom lief is.  Sy opdragte is nie ‘n las vir sy kinders nie.  Om Hom te gehoorsaam, is nie ‘n marteling nie.  Dis nie eens moeilik vir mense wat op die Heilige Gees se krag staatmaak nie, want Hy doen al die werk;  ons moet Hom net bly vertrou.


Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy  gebooie gehoorsaam.  Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, want enigeen wat ‘n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin ... deur ons geloof.  -  1 Johannes 5:3-4   (Lees 1 Johannes 5:1-5)


Liefdevolle Vader, help my vandag om my liefde vir U te wys in alles wat ek doen.




Bob Hostetler  :  Kry lewe @ JESUS

  Jesus se Seunskind / Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!


(Die uitsendings van al my boodskappe, hang af van die stabiliteit van my internet konneksie.  Wanneer daar dus onderbrekings daarin is, sal daar ook ongelukkig geen boodskappe uitgestuur kan word nie.)





Sunday 18 October 2015








‘n Vaste fondament


Wysheid begin met die dien van die Here;  almal wat dit doen, het ware insig.  Die roem van die Here hou altyd in stand.  -  Psalm 111:10.   (Lees Psalm 111:1-10)


Dit lyk soos ‘n mislukte wetenskap-eksperiment.  Die bouwerk het 199 jaar gevat.  En dit staan elke jaar al hoe skewer.  Eendag gaan dit só ver oorhel, dat al ag verdiepings op die grond sal neertuimel.


Jy weet seker klaar dis die beroemde toring van Pisa, ‘n Italiaanse kloktoring.  Die bouwerk het in 1173 begin en die eerste drie verdiepings was net klaar, toe die toring begin oorleun omdat die grond weggesink het.  Die fondament was onstabiel.


Kan jy jou *dit* indink!  ‘n Argitektoniese meesterwerk word bedreig deur ‘n fóútiewe fondament!


Dit gebeur vándag nog.  Mense leer, kom eksamens deur, slaag met lof.  Maar ten spyte van hulle kennis en geleerdheid doen hulle allerhande dwase dinge en mors hulle lewens op.  Hoekom?  Omdat die fondamente foutief is.  Hulle het dalk kénnis en geléérdheid, maar hulle kórt wysheid, want wysheid begin met die dien van die Here.


In die ou dae het mense gepraat van ‘n “vrees vir die Here”.  Dié vrees beteken nie ons moet bang wees vir Hom nie, maar om respek te hê vir God, sy mag en liefde, vir wie Hy is en wat Hy kan doen, en om Hom te gehoorsaam.  Dis om sy genade nie as vanselfsprekend te aanvaar nie.  Dis om te onthou:  Hy oordeel oor reg en verkeerd.


Wáre wysheid  is soos ‘n kloktoring:  sterk en mooi.  En soos alle stewige bouwerk het dit ook ‘n vaste fondament:  eerbied vir God!



Here, soms voel my fondament maar wankelrig.  Ek het nie veel wysheid nie, maar gelukkig het Ú wel.  Hou my naby aan U sodat ek nie ineenstort in ongunstige tye nie.




Bob Hostetler  :  Kry lewe @ JESUS



  Jesus se Seunskind @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!


Friday 16 October 2015

Waarhede en naarhede








Waarhede en naarhede


Omdat Moses geglo het, het hy ... verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om die kortstondige genietinge van sonde te hê.  -  Hebreërs 11:24-25


Dis dikwels baie moeilik om reg te kies.  “Verkeerd” lyk na soveel meer pret, en “reg” lyk vervelig.  Moses se keuse was ook moeilik:  Draai teen God en sy volk vir ‘n luukse lewe, of trek die woestyn in.  Moses het die langtermyn-beloning gekies – om eerder gehoorsaam te wees aan God as om in ‘n kits bevredig te word.


Baie verkeerde keuses hou kitsvoordele in, terwyl dit lyk asof regte keuses korttermyn-‘lyding” meebring.  Maar jy sal dikwels verkeerd kies as jy net kyk na wat dadelik vir jou voordelig of nadelig is.  As jy bereid is om reg te kies, sal jy op die ou end die beste daarvan afkom.


Here, help my om die regte keuse te maak, selfs wanneer die verkeerde keuse makliker lyk.



Bob Hostetler  :  Kry lewe @ Jesus



  Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!






Thursday 15 October 2015

Om vir God te kan hoor







Om vir God te kan hoor


Om God deesdae in die gejaag en geraas te hoor is baie moeilik, want God hou van stilte.  God verkies om in stilte met sy kinders te praat.
In 1 Konings 19:11 b-12 lees ons ‘n baie interessante gedeelte wat dit bevestig:


Maar in die wind was die Here nie.
Na die wind was daar ‘n aardbewing.
Maar in die aardbewing was die Here nie.
Na die aardbewing was daar ‘n vuur.
Maar in die vuur was die Here nie
En na die vuur was daar
‘n fluistering in die windstilte.


Die wind, aardbewing en vuur is alles aktiewe elemente.  Dit is simbole van jou besige lewe.  Jy jaag om deur jou akademie te kom.  Jy jaag van jou akademie  om by jou sportaktiwiteite  te kom.  Daar is sport by die skool en ook nog die private afrigting.  Om gebalanseerd te wees moet jy ook nie kulturele aktiwiteite agterweë laat nie.  Daarnatoe word ook gejaag en jy is eintlik verlig as dit agter die rug is.  Die akademie druk altyd en skooltake het  jy oorgenoeg van.  Iewers moet daar plek gemaak word vir ‘n sosiale lewe en dan kla jou pa en ma dat jy nie genoeg tyd met jou gesin deurbring nie.  Wind, aardbewings en vuur!  Dit alles terwyl God vir jou wag in die windstilte.
Elia soek God in die wind, aardbewing en vuur – alles simbole van vandag se gejaagde en besige lewe.  Maar hy vind dat God nie daarin is nie.  Dit is nie waar God kies om Homself openbaar te maak nie.  Nee, God verkies stilte.  Dit is waar Hy is en dit is waar Hy met jóú en my praat.



Johan Smith : God se hart klop vir jou




E-kaart:  Poppie Oosthuizen
Jesus se Seunskind @ Facebook



Saturday 10 October 2015

Soek jou blydskap in die Here







Soek jou blydskap in die Here


Wees altyd bly omdat  julle weet dat julle aan die Here behoort. Ek sê dit weer: “Wees bly!” Filippense 4: 4 


Dit is wonderlik hoe gelukkig en blymoedig baie mense kan wees gedurende hewige pyn en groot verdriet.  Dit is slegs moontlik vir hulle wat hulle blydskap in die Here soek. 

‘n Kanarie sing lustig in sy koutjie, nie omdat hy onbewus daarvan is dat hy die heerlike, vrye lugruimte moet misloop nie, maar omdat dit sy aard is om die vreugde van sy hartjie in ‘n lied uit te stort.  Hy weier nie koppig en nors om te sing omdat hy nie sy sin kan kry om buite in die natuur te sing nie.  Hy maak die beste van sy omstandighede.  Sy lied in sy gevangenis maak meer as een bedrukte kind van God se harte bly. 

Jy moet ook leer dat geluk nie daarin bestaan om alles te kry wat jy wil hê nie, maar wel daarin dat jy geniet wat jy wel het en daarvoor dankbaar is.  Rykdom en eer sal nooit soveel geluk bring as wat berusting en vrede met God kan bring nie.  As ‘n kanarie in sy klein hokkie uit volle bors kan sing, wáárom sal ek en jy so maklik mor en kla, oor wat ons nie kan kry nie?  Kom ons maak ander om ons gelukkig met ons vrolike lied en liefde en dit sal vir onsself ook geluk bring.


Gebed:  Liewe Heer, help my om nie my geluk in die wêreld te soek nie maar in Ú.  Leer my om ánder om my nie met my hartseer te kwel nie, maar om vir hulle my vreugde te bring en in liefde-diens my eie leed te vergeet.  Amen



E-kaart:  Poppie Oosthuizen
Jesus se Seunskind @ Facebook


Aan God die drie-enige, alleen die eer!



Friday 2 October 2015

'n Nuwe toekoms en verwagtings








‘n Nuwe toekoms en verwagtings


Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here:  voorspoed en nie teenspoed nie;  Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!  -  Jeremia 29:11


Net as jy jou kontaklense verloor het, sal jy sê hierdie bos is mooi.  Toe jy elf was, het jy die bos waarin die volwasse diere brul en baklei só gekyk en gewonder hoe jy daar kon uitbly.  Want:  een van jou vriende se pa het selfmoord gepleeg;  die stilste ou in die klas se broer is met Satanisme deurmekaar;  jou pa en ma was al op die randjie van ‘n egskeiding; te erg vir kinders;  hulle sê ‘n komeet gaan die bos tref en dat die einde van die wêreld naby is;  chemiese ontploffings in jou maak jou deurmekaar;  die storie word vertel dat God dood is en soms glo jy dit amper;  iemand wat jy ken se ouma is op ‘n plaas vermoor;  julle motor is gesteel ...

Gelúkkig het  jy as baie verwarde en deurmekaar kind vir Mý, jou God en Vader wat áltyd by jou is.  Ek beplan vir jou ‘n núwe toekoms en núwe verwagtings.  As jy mý kind is en in My bly soos die lote in die wingerdstok, kan jy stééds bly en gelukkig wees want Ék sorg vir jou in álle situasie selfs dié wat onnatuurlik is!

Sal jy daarvan hou om anders te wees?  ‘n Nagtegaal in plaas van ‘n vlermuis;  ‘n sterk beer pleks van ‘n hiëna?  Begin as mý kinders dink en doen want  Ék is by julle en sal julle nie vir een énkele oomblik alleen laat op jul eie nie!  Ek is báie lief vir julle!




~ Maretha Maartens ~





  :  Jesus se Seunskind @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!