God wil jou seën met goeie vriende en vriendinne
Dis God se wil dat jy goeie vriende en/of vriendinne
moet hê.
“Goeie goed is skaars,” sê die bekende
spreekwoord. Nêrens is dit meer waar as
met vriendskap nie. ‘n Ware
vriendskapsverhouding kom nie cheap nie, want dit vra baie van iemand
se tyd en doelgerigte omgee en liefde.
In kort, dit kos baie – dis duur!
Geeneen van ons is ‘n smartvraat of wil een wees nie,
maar daar kom tye in jou lewe dat jy bemoediging en ondersteuning nodig
het. Soms het jy net iemand se oor nodig
wat bereid is om regtig te luister, of iemand se skouer om op te huil. Ja, dis reg – seuns mag maar huil! Jy kan nie na elkeen toe hardloop nie, want
jy soek iemand wat werklik verstaan en werklik sal vertroos. Dis dié soort vriend of vriendin met wie God
jou wil seën, iemand wat soos Jesus betroubaar en opreg ‘n rol in jou lewe speel.
As ek aan ware vriendskap dink, dink ek aan die
groepie maats wat almal hulle hare poenskop geskeer het. Waarom?
Hulle maat met kanker se hare het uitgeval vanweë chemoterapie. Geen prys was vir hulle te groot om te wys
hulle gee om nie. Hulle was bereid om
van hulleself te gee. Hou aan soek – dis
God se hart oor vriendskap.
In die Woord: Spreuke 17:17
Op ‘n vriend se liefde kan jy
altyd reken; jou broer is daar met die
oog
op jou nood.
In die hart:
Here, ek smag na gehalte-vriendskap. Dankie dat ek kan weet U wil dit vir my
gee. Gee my die krag om met my vriende
en vriendinne daaroor te praat en seën my op u tyd met nuwe vriende en
vriendinne.
Johan Smith : Kuiertyd met Jesus
✉
: Jesus se Seunskind @ Facebook ♡
♡†♡ Aan God die drie-enige, alleen die eer! ♡†♡