Monday 23 November 2015

'n Ware Free Lunch







'n Ware Free Lunch


Hallo Vriend/Vriendin


Daar is ’n Engelse spreekwoord wat sê: There is no such thing as a free lunch. Die spreekwoord het blykbaar in Amerika in die 1940’s begin toe kroeë vir hulle kliënte ingelok het deur vir hulle gratis middagete aan te bied, natuurlik in ruil dat hulle hulle sakke sou skud en bier sou koop. Via jou aankope van bier, betaal jy tog maar op die ou einde vir ’n “gratis” middagete.

Selfs al koop iemand vir jou middagete, is daar gewoonlik iets wat die ander persoon in ruil wil hê. Dalk wil die persoon julle verhouding diens, sodat jy volgende keer weer by hom jou produkte aankoop. Dalk is dit om dankie te sê vir ’n vorige kontrak wat ontvang is. Wanneer jy genooi word vir ’n besigheidsete is daar dikwels verskuilde agendas en jy betaal indirek daarvoor.

Wanneer ’n mens by God se besigheid kom, is daar nie verskuilde agendas nie. God doen alles met kaarte wat oop is vir almal om te sien. Ja, by God is daar ’n ding soos ’n ware free lunch. Dit was soos ’n handelstransaksie: omdat ons so sondig was, was ons God se vyande. Toe kom Jesus en betaal wat nodig is om weer alles tussen ons en God reg te maak. Dit het Hom wel sy lewe gekos, maar die vrede is herstel tussen God en almal wat aan Jesus se kant staan. Dat God so iets gedoen het sonder om te vra wat ons kan terugbetaal, wys net hoe geweldig goed Hy vir ons is.

Die free lunch wat ons van God ontvang, word moontlik gemaak deur Jesus se sterwe aan die kruis. Jesus het daarvoor betaal. Die skrywer van Efesiërs noem dit eintlik net so terloops in die vers hierbo - so asof dit vanselfsprekend is. Dit het Hom wel sy lewe gekos. Maar watter groot prys is dit nie. Ons Verlosser het die duurste prys ooit betaal. Hy het sy lewe opgeoffer. Hy was bereid om in die vallei van die dode te gaan draai, sodat ons weer die kans kan kry om by God uit te kom.

En dit doen God alles gratis. Ons kry dit gratis, free for you, mahala, jy betaal niks. Dis werklik ’n free lunch met geen verskuilde agendas nie. Nee, al wat ’n mens hier kan sien, is ’n God wat ons so liefhet dat Hy Homself nie kan keer om alle planne uit die hoed te trek om ons weer by Hom uit te kry nie. Die breuk wat daar tussen Hom en die mens as gevolg van die sonde ontstaan het, was vir Hom so erg dat Hy bereid was om sy Seun se lewe daarvoor op te offer. God sou enige iets doen en deur die daad maak God sy hele hart aan ons sigbaar: .. Dat God so iets gedoen het sonder om te vra wat ons kan terugbetaal, wys net hoe geweldig goed Hy vir ons is. Daar is eenvoudig geen einde aan al sy goedheid vir ons nie. As jy wonder waarom God so goed is, kan ek maar net sê dat God weet wat Hy doen, ja, Hy weet alles.

Sjoe, wat meer kan ons sê?

Wanneer ons by God ingaan en sy genade ervaar, daar waar ons regtig ’n free lunch kry, daar waar ons geestelike honger gestil word, kan en mag ons dit mos nie vir onsself hou nie. Ja, wanneer ons ’n winskopie of ’n gratis geskenk in die inkopiesentrum raakloop, vertel ons almal wat ons ken daarvan. Kom ons maak dieselfde met God se gratis verlossing wat Hy ons bied: Daarom moet ons vir ander vertel hoe wonderlik en groot God is en wat Hy alles vir ons gedoen het. Ons het niks verdien nie, maar God het dit verniet vir ons kom gee. Ek sê
weer: Jesus, vir wie God so lief is, het kom sorg dat dit alles gebeur.

Juanita du Plessis sing ’n liedjie met die naam: Hoe kan ek stilbly? As ek weet hoe voel U liefde. As ek weet dat U bestaan. Hoe kan ek lewe, sonder om vir U te lewe en hoe kan ek sing, sonder om vir U te sing? Oor die hoogste berge oor die hele wêreld wil ek verkondig: U is heilig. Van die ooste tot die weste tot hoog bo in die hemel. Oor die hoogste kranse wil my hart sing van al U liefde, U genade tot aan die einde sal U Naam op my lippe wees.
Ja! Ja, mag ons almal saamsing oor die ware free lunch.
Teks:
Efesiërs 1:1-14
Om oor na te dink:

Besef jy regtig wat God vir jou kom doen het?
Leef jy dit?
Weet jou pelle dit?

Gebed

Vader, God, U is heilig. Van die ooste tot die weste tot hoog bo in die hemel. Oor die hoogste kranse wil my hart sing van al U liefde, U genade tot aan die einde sal U Naam op my lippe wees. Amen


Vrede

Gerjo Ben
KRUISPAD


No comments:

Post a Comment