Sunday 23 August 2015

Weerbarstig en Opgeblase







Weerbarstig en Opgeblase


Lees:  Spreuke 22:1-6


Leer ‘n jongmens om die regte pad te kies, en wanneer hy eendag oud is, sal hy nie daarvan afwyk nie.  -  Spr. 22:6


‘n Plaasseun gaan op die dorp skool.  Hy gaan huis toe vir die vakansies.  Sy ma sê: “Hans, neem die besem en vee vir my die stoep af.”  Daar was geen bediende nie en die ma en susters moes alles self doen.  Hy antwoord hooghartig:  “Waar het Ma gesien dat ‘n matriekseun nog stoepe afvee?”” en stap groot-meneer weg sonder om dit te doen.  Hans het gedink dat hy nou ‘iets’ is en die reg het om vir sy moeder ongehoorsaam te wees.  Hy het later tot bekering gekom en die woorde wat hy dáárdie dag vir sy ma gesê het, het by hom gebly en hom gegrief dwarsdeur sy lewe en hy was innig spyt daaroor.

Jy kan maar weet dat hoe hoër jy opklim op die leer van eer, hoe laer kan jy buk sonder om jou te verlaag.  Nederigheid is ‘n sierlike kroon selfs vir die hoogsgeplaaste in ‘n  land, en alleen hy of sy, wat geleer het om te dien, is werd om gedien te word!
Hierdie seun, wat geweier het om vir sy ma die stoep te vee, het dikwels in sy latere lewe gesê:  “Al dink jy dat jy baie slim is en ver bokant jou pa en ma geleerd is, gehoorsaam hulle tog, want in nege-en-negentig persent van die gevalle indien nie honderd nie, sal jy uitvind pa en ma was tóg reg en jý was verkeerd.”


MJ van Straten : Môredou


  :  Jesus se Seunskind @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!






No comments:

Post a Comment