Sunday 18 October 2015








‘n Vaste fondament


Wysheid begin met die dien van die Here;  almal wat dit doen, het ware insig.  Die roem van die Here hou altyd in stand.  -  Psalm 111:10.   (Lees Psalm 111:1-10)


Dit lyk soos ‘n mislukte wetenskap-eksperiment.  Die bouwerk het 199 jaar gevat.  En dit staan elke jaar al hoe skewer.  Eendag gaan dit só ver oorhel, dat al ag verdiepings op die grond sal neertuimel.


Jy weet seker klaar dis die beroemde toring van Pisa, ‘n Italiaanse kloktoring.  Die bouwerk het in 1173 begin en die eerste drie verdiepings was net klaar, toe die toring begin oorleun omdat die grond weggesink het.  Die fondament was onstabiel.


Kan jy jou *dit* indink!  ‘n Argitektoniese meesterwerk word bedreig deur ‘n fóútiewe fondament!


Dit gebeur vándag nog.  Mense leer, kom eksamens deur, slaag met lof.  Maar ten spyte van hulle kennis en geleerdheid doen hulle allerhande dwase dinge en mors hulle lewens op.  Hoekom?  Omdat die fondamente foutief is.  Hulle het dalk kénnis en geléérdheid, maar hulle kórt wysheid, want wysheid begin met die dien van die Here.


In die ou dae het mense gepraat van ‘n “vrees vir die Here”.  Dié vrees beteken nie ons moet bang wees vir Hom nie, maar om respek te hê vir God, sy mag en liefde, vir wie Hy is en wat Hy kan doen, en om Hom te gehoorsaam.  Dis om sy genade nie as vanselfsprekend te aanvaar nie.  Dis om te onthou:  Hy oordeel oor reg en verkeerd.


Wáre wysheid  is soos ‘n kloktoring:  sterk en mooi.  En soos alle stewige bouwerk het dit ook ‘n vaste fondament:  eerbied vir God!



Here, soms voel my fondament maar wankelrig.  Ek het nie veel wysheid nie, maar gelukkig het Ú wel.  Hou my naby aan U sodat ek nie ineenstort in ongunstige tye nie.




Bob Hostetler  :  Kry lewe @ JESUS



  Jesus se Seunskind @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!


No comments:

Post a Comment