Saturday 10 October 2015

Soek jou blydskap in die Here







Soek jou blydskap in die Here


Wees altyd bly omdat  julle weet dat julle aan die Here behoort. Ek sê dit weer: “Wees bly!” Filippense 4: 4 


Dit is wonderlik hoe gelukkig en blymoedig baie mense kan wees gedurende hewige pyn en groot verdriet.  Dit is slegs moontlik vir hulle wat hulle blydskap in die Here soek. 

‘n Kanarie sing lustig in sy koutjie, nie omdat hy onbewus daarvan is dat hy die heerlike, vrye lugruimte moet misloop nie, maar omdat dit sy aard is om die vreugde van sy hartjie in ‘n lied uit te stort.  Hy weier nie koppig en nors om te sing omdat hy nie sy sin kan kry om buite in die natuur te sing nie.  Hy maak die beste van sy omstandighede.  Sy lied in sy gevangenis maak meer as een bedrukte kind van God se harte bly. 

Jy moet ook leer dat geluk nie daarin bestaan om alles te kry wat jy wil hê nie, maar wel daarin dat jy geniet wat jy wel het en daarvoor dankbaar is.  Rykdom en eer sal nooit soveel geluk bring as wat berusting en vrede met God kan bring nie.  As ‘n kanarie in sy klein hokkie uit volle bors kan sing, wáárom sal ek en jy so maklik mor en kla, oor wat ons nie kan kry nie?  Kom ons maak ander om ons gelukkig met ons vrolike lied en liefde en dit sal vir onsself ook geluk bring.


Gebed:  Liewe Heer, help my om nie my geluk in die wêreld te soek nie maar in Ú.  Leer my om ánder om my nie met my hartseer te kwel nie, maar om vir hulle my vreugde te bring en in liefde-diens my eie leed te vergeet.  Amen



E-kaart:  Poppie Oosthuizen
Jesus se Seunskind @ Facebook


Aan God die drie-enige, alleen die eer!



No comments:

Post a Comment