Saturday 19 September 2015

God wil jou seën met goeie vriende en vriendinne








God wil jou seën met goeie vriende en vriendinne


Dis God se wil dat jy goeie vriende en/of vriendinne moet hê.


“Goeie goed is skaars,” sê die bekende spreekwoord.  Nêrens is dit meer waar as met vriendskap nie.  ‘n Ware vriendskapsverhouding kom nie  cheap nie, want dit vra baie van iemand se tyd en doelgerigte omgee en liefde.  In kort, dit kos baie – dis duur!

Geeneen van ons is ‘n smartvraat of wil een wees nie, maar daar kom tye in jou lewe dat jy bemoediging en ondersteuning nodig het.  Soms het jy net iemand se oor nodig wat bereid is om regtig te luister, of iemand se skouer om op te huil.  Ja, dis reg – seuns mag maar huil!  Jy kan nie na elkeen toe hardloop nie, want jy soek iemand wat werklik verstaan en werklik sal vertroos.  Dis dié soort vriend of vriendin met wie God jou wil seën, iemand wat soos Jesus betroubaar en opreg ‘n rol in jou lewe speel.

As ek aan ware vriendskap dink, dink ek aan die groepie maats wat almal hulle hare poenskop geskeer het.  Waarom?  Hulle maat met kanker se hare het uitgeval vanweë chemoterapie.  Geen prys was vir hulle te groot om te wys hulle gee om nie.  Hulle was bereid om van hulleself te gee.  Hou aan soek – dis God se hart oor vriendskap.

In die Woord:   Spreuke 17:17
Op ‘n vriend se liefde kan jy altyd reken;  jou broer is daar met die oog
op jou nood.

In die hart:
Here, ek smag na gehalte-vriendskap.  Dankie dat ek kan weet U wil dit vir my gee.  Gee my die krag om met my vriende en vriendinne daaroor te praat en seën my op u tyd met nuwe vriende en vriendinne.


Johan Smith : Kuiertyd met Jesus


  :  Jesus se Seunskind @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!



No comments:

Post a Comment